Die Skool

KORT GESKIEDENIS VAN SKOOL

Die onmiddellike voorgangerskole was die Holy Trinity English Church School en die De Vos Malan Nederduits Gereformeerde Sendingkerkskool, wat op 19 Julie 1966 verenig het om die Laerskool Vleiview te vorm.

Laerskool Vleiview het op 1 Januarie 1979 'n naamsverandering ondergaan na Swartberg Primêre Skool. Hoewel die skool nog in dieselfde skoolgeboue van 1966 is, is daar in 1975 twee nuwe vlerke aangebou. Die leergang is ook uitgebrei met 'n LSO-klas,1 Januarie 1976, en 'n Pre-Primêre klas, 1 Januarie 1987. In 1966 was daar 17 opvoeders op die diensstaat. Dit het by geleentheid gegroei tot 37, maar weens rasionalisering het ons tans 24 opvoeders.

Vertellinge en navorsingstukke toon interessante grepe uit die geskiedenis van die skool.

Die eerste Anglikaanse eerwaarde wat skynbaar op Caledon betrokke was by opvoeding, was eerwaarde Albertyn wat in die middel veertigerjare van die neëntiende eeu op Caledon werksaam was.

Op 'n stadium is die English Mission School gehuisves in Hawstraat, en dit dateer skynbaar uit die 1880's. Die skool is gehuisves in die gebou wat destyds gedien het as die blomskuur en was geleë op die perseel wat later deur die Theunissen Begrafnisondernemers gebruik is en vandag deur die Guthrie en Theron Prokureursfirma gebruik word.

Op 29 Oktober 1949 is die hoeksteen van die nuwe Holy Trinity English Church School onthul. Die inskripsie op hierdie steen lees as volg: "EMDG - This school was dedicated by the Most Reverend Geoffrey, Lord Archbishop of Cape Town, on 29 October 1949."

EMDG beteken: In Latyns: Ad Majorum Dei Gloria. In Engels: To the greater glory of God.

Gedurende daardie jare was die plaaslike Anglikaanse Kerk se predikant ene eerwaarde William Gregorowsky, die biskop was Biskop Lavis en die aartsbiskop (wat die onthulling van die hoeksteen waargeneem het) was Aartsbiskop Geoffrey 

Skoolwapen

Die skoolwapen is ontwerp om spesifieke betekenis uit te beeld. Elk van die embleme beeld iets besonders uit.

'n Uiteensetting van die betekenis van ons skoolwapen volg onder:

  • Kroon:

Die kroon staan prominent bo-aan die wapen.

Dit span die kroon op die suksesse van ons skool.

  • Harp:

Die musikale harp in die skild simboliseer die harmonie waarna gestreef word onder die skoolgemeenskap, veral onder die leerders.

  • Kwartmaan:

Die kwartmaan in die skild word ook 'n sekelmaan genoem en dit simboliseer ons groei en die insameling van die "oes". (Ryp koring is voorheen met 'n sekel geoes.)

  • Ruimte:

Die oop ruimte in die skild simboliseer ons visie tot verdere uitbouing.

  • Koringare:

Die lourierkrans van koringare wat die skild om-arm, simboliseer die ryk koringstreek wat ons skool om-arm.

  • Leuse:

Die balkie onderaan die skoolwapen bevat die skool se leuse.